FEIKE ASMA EN SUID-AFRIKA

In Februarie 1952 het ons gesin na Suid-Afrika geëmigreer, ek was toe agtien jaar oud.
Gedurende die vyftiger jare was daar elke Sondagmôre vir'n halfuur 'n program van orrelmusiek op die radio, waarin verskillende plaaslike orreliste opgetree het. Na verloop van tyd is daar, jammer genoeg mee gestop. Suid-Afrika is nie 'n orrelland nie, die mense het nie groot geword met die orrelkultuur nie en daar is oor die algemeen geen belangstelling in orrelmusiek nie. Ek onthou nog van 'n kort aanbieding van orrelmusiek net voor die nuusuitsending, waarin Feike Asma 'n orrelsonate van Mendelsshon speel. Plotseling is die uitsending onderbreek en kondig die omroepster aan dat by gebrek aan tyd die pragtige werk gestop moes word. By die meeste Nederlandse emigrante was daar'n behoefte aan meer geestelike musiek, maar ook aan ander musiek soos marsmusiek, draaiorrels en aan die destyds gewilde/populêre musiek.

Ons het toe begin om grammofoonplate in te voer, o.a. van Feike Asma, Piet van Egmond, Dirk Janszn. Zwart, koor-solosang van Dé van Oenen, Aafje Heynis, Vox Jubilans, Peter Post met Harry Sevenstern trompet en die gewilde reeks "Music for the Millions", ens.
Wat orrel musiek aanbetref het dit geblyk dat mense meer belangstelling in Feike Asma toon. Langsamerhand kry hy meer bekendheid, ook omdat daar gedurende die sestiger jare deur middel van die radio meer aandag aan hom gegee is. As gevolg daarvan is daar planne gemaak om hom na Suid-Afrika te laat oorkom vir 'n konserttoer en daar is 'n orrelstigting opgerig om dit te organiseer.
Die planne het gerealiseer, Feike Asma het in Maart 1972 na Suid-Afrika gevlieg en is verwelkom op Jan Smuts lughawe en het in 'n bekende hotel in Pretoria tuisgegaan. Hy het dit verkies om in 'n hotel te bly en nie by gasgesinne nie, om voldoende rus te kan kry.

Ons het onmiddellik agtergekom dat hierdie internasionale persoon heeltemal gewoon en gemoedelik was in sy omgang met mense. Vir ons het hy gese: "Sê maar gewoon Feike, meneer is onnodig", ek was toe 39 jaar oud. Hy het baie belangstelling getoon in ons daaglikse werk en gesinsomstanighede, byvoorbeeld: toe hy 'n keer by ons tuis was en een van ons kinders by sy voete gespeel het wou ek haar wegvat, maar hy het vir my gesê dat ek haar moet los dit maak nie saak nie. Daar was ook 'n egpaar Kamstra, afkomstig uit Alkmaar hulle het Feike geken in die jare toe hy nog gestudeer het by Jan Zwart en konserte gegee het in die Laurenskerk te Alkmaar. Hulle was ook deel van die intieme genooides tydens byeenkomste. Behalwe dat Feike nog 'n skoonsuster in Durban gehad het was daar heelwat oud-Nederlanders wat hom nog geken het. Al die ontmoetinge was baie ontspanne.

Nog voordat Feike sy eerste konsert opvoering gehou het, is sy tas met al sy musiek uit die voertuig gesteel. Dit was 'n groot skok en daar moes inderhaas na musiek gesoek word, gelukkig is heelwat musiek deur spontane hulp van vriende bymekaar gemaak. 
In die tas was daar 'n musiekstuk van Jan J. van den Berg (as ek reg onthou) wat aan Feike opgedra is, hy was baie hartseer daaroor. Die tas het nooit weer tevoorskyn gekom nie. 
Op 24 Maart 1972 het die eerste konsert plaasgevind in die Universiteitsoordkerk te Pretoria.
Die organisatore en die orrelis was gespanne en het gewonder of die opkoms wel goed sou wees, maar dit het alle verwagting oortref, daar was plusminus 2000 mense.
Op die program was daar ook 'n werk (musiekstuk) van Guurt van der Tas, komiteelid van die orrelstigting, namelik 'n koraalbewerking van Psalm119, "Laat my lewe om te loof". Dit was spesiaal opgedra aan Feike Asma, ter geleentheid van sy eerste besoek aan Suid-Afrika. Die musiek is nog steeds verkrygbaar. 
Na die konsert maak 'n luisteraar die opmerking dat Feike 'n ander bewerking van Psalm 138 gespeel het as wat hy in sy besit het. Dieselfde geval was in die Stadsaal van Pretoria waar 'n ander bewerking van Jan Zwart's "Een Vaste Burcht" gespeel is. Hulle het die musiek saamgevat om dit te kan volg. By navraag het Feike gesê dat daar verskillende bewerkinge bestaan.

By 'n ander konsert in Pretoria, in die St. Albans katedraal, onthou ek nog dat die Preludium en Fuga in Es-dur gespeel sou word. Die orrel was egter in restourasie en  daar het pype ontbreek, daar moes dus oorleg gepleeg word of dit wel raadsaam  sal  wees om die werk uit te voer, veral in verband met die registrasie. Daar is besluit om wel daarmee aan te gaan en na afloop van die konsert was elkeen beindruk en het dit geblyk dat dit 'n reuse sukses was.

Tydens die orrelbespelinge in Pretoria en omstreke dele het 'n bekende Pretoriase orrelis, Pieter Delen, Feike bygestaan met die registrasies.
Na afloop van die reeks konserte het hy gesè dat dit vir hom 'n groot eer was om so'n groot meester te mog assisteer.

In Potchefstroom het die plaaslike orrelis na die konsert 'n opmerking gemaak dat hy nie geweet het dat daar 'n trompet op die orrel was nie, waarna Feike vir hom sê " ons maak een deur registrasie."
Daar was by 'n geleentheid ook 'n versoek van 'n bejaardetehuis wat verneem het of die orrelis van Nederland ook by hulle sou wil optree. Ondanks sy vol program kon hy nog tyd inruim vir hulle waaroor die mense baie bly en dankbaar was.
In die algemeen was die mense wat die konserte bygewoon het entoesiasties en het hulle vereenselwig met sy spel, veral toe hulle hom sien speel was hulle aangedaan en het betrokke gevoel by die musiek.
Dit was destyds nie gebruiklik om in die kerkgeboue toegangsgelde te vra nie, as alternatief is programme verkoop en deurkollektes gehou. Daar is ook tydens die konserte nie geaploudiseer nie, iets wat Feike verwelkom het, dit is alleen gedoen in openbare sale.
Suid-Afrika is nie so bevoorreg soos Nederland waar daar groot kerkgeboue en katedrale is nie. Die gemiddelde grootte van die kerke hier is plusminus 500 sitplekke groot. Tydens 'n konsert in die St. Mary katedraal in Johannesburg (wat wel groot is)  het ons ontdek dat Feike anders speel, meer as konsert-orrelis. Die gehoor was aangedaan deur sy pragtige spel en te danke aan die akoestiek het alles mooi tot sy reg gekom, die veelsydige program was ook ingestel op 'n groot ruimte. 
Die orrelkonserte in 1972 was buitengewoon goed bygewoon. Die mense het van heinde en verre gekom. Dit het aanleiding gegee tot die reel van 'n tweede besoek, reeds in die daaropvolgende jaar, 1973. In totaal was daar 34 konserte. Verder was daar 'n byeenkoms van drie dae in Krugersdorp waar daar lesings gegee is oor begeleiding van gemeentesang, interpretasies ens. Vir hierdie byeenkoms is daar 'n aantal orreliste genooi en die medewerkers was Willem Zorgman, leerling van Jan Zwart, en Roelof Temmingh, 'n orrelis uit die Kaap. Daar is geleentheid gegee om die sang te begelei.
Dan was daar 'n twee-dae besoek aan die konservatorium SUKOVS in Bloemfontein.
Oranje-Vrystaat, waar Feike dit opreg geniet het en goeie kontakte gemaak het.Tydens sy konsertreis het Feike tot die ontdekking gekom dat daar heelwat talent op orrelgebied is, maar dat daar meer gedoen kan word vir die ontginning daarvan en dat die publiek bewus gemaak kan word deur middel van die radio en die hou van konserte. Hyself het 'n wye belangstelling vir musiek oor die algemeen. Ons was saam met hom by 'n uitvoering van die Kaapse stadsorkes o.l.v. 'n besoekende dirigent, in die Nico Malan teater te kaapstad, wat hy baie waardeer het.
Die konserttoere het 'n blywende invloed gelaat. Die volgende geslag weet van die entoesiasme van hulle ouers vir Feike se konserte. Huidige radio-omroepers weet nog  van die radio uitsendings. Feike Asma bly dus 'n bekende naam en daar is nog steeds aanvraag vir sy musiek. Andersyds is dit ook so dat daar in Suid-Afrika weinig belangstelling is vir orrelmusiek, alhoewel daar op die oomblik meer moeite gedoen word om meer bekendheid daaraan te gee.
Gedurende September en Oktober 2002 is daar vyf radio-uitsendings van 45 minute gehou ter herdenking van sy geboortejaar, 90 jaar gelede, so ook 'n spesiale kersuitvoering in Desember van daardie jaar as 'n huldeblyk. Die uitsendings word hierdie jaar weer herhaal en so ook die kersuitvoering wat op die19de Desember uitgesaai word ter nagedagtenis aan sy sterfjaar, 20 jaar gelede.

In 2002 het daar ook 'n cd verskyn met die titel "Feike Asma in Suid-Afrika" met opnames van die konsertreise in 1972/1973.

 

 

Bogenoemde gegewens is versamel oor 'n periode van meer as vyftig jaar. Ek het dit in groot trekke weergegee en probeer om dit so noukeurig moontlik te doen.
Terugsiende kan gesê word dat Feike Asma nog steeds 'n gewaardeerde plek het in die samelewing, waaruit blyk dat hy sy tyd ver vooruit was met sy vertolking van musiek en dit tot op hede nog steeds belangstelling geniet.

© Jaap H. Bouwman
    September 2004

   Nederlandse vertaling